Friday, 6 July 2012

Die Eerste Week

Jou stilte dawer
Magtig, suisend
Soos 'n duisend spelde
Tuimelend teen die son
Flitsend val
My hart kolskoot tref
My hart herhaaldelik deurboor
Jou stilte los my verskeurd
Jou stilte los my alleen

Tuesday, 3 July 2012

Lüderitzbucht

Soms sit jy voet aan wal, tree jy oor die drumpel of val jy sommer net met die deur by die huis in, maar veel minder as soms is jy dadelik tuis. Jou eie huis het gewoonlik daardie voorreg. Goeie vriende of familie deel dalk daarin, maar daar is 'n paar vreemde plekke in die wereld wat jou terugverwelkom met jou eerste besoek. Aanvanklik is dit bitter einenaardig, hoe kan mens tuis voel in 'n vreemde plek, hoe kan jy voel asof jy nooit weg was nie as jy nog nooit daar was nie?  Later leer jy om sulke plekke bloot te waardeer en meer gereeld te besoek, want die band is daar, onvergangklik soos dit onverwags was. Lüderitz geniet daardie status in my wereld. Die eerste keer wat ek deur die dorp gery het om voor by Shark Island te gaan kamp was dit my dorp. Ek wou dadelik terugkom, al het ek skaars aangekom.   Die aantrekkingskrag is vir my onduidelik, miskien is dit die gemaklike vermenging van bekend met onbekend, die geweldige kontras van bar kliprandjiewoestyn styf teen die see, die omgewing se geweldige diamantrykdom met die totale afwesigheid daarvan in die dorpsstrate, die onvermengde vermenging van Europa se geboue en kos met Afrika se mense en klanke. Dalk is dit juis hierdie kombinasie van onwaarskynlike komponente wat 'n mooi geheel skep wat my laat tuis voel, wat my laat voel my eie komponente kan dalk tog ook in 'n heelheid en eenheid verbind wat mens genoem kan word. Ek weet nie, maar ek het aanklank gevind. Teen die einde van my besoek het ek geweet ek gaan terugkeer, maar nie geweet wat ek gaan doen met my terugkoms nie. Bloot weer toeris speel, of dalk 'n nuwe rol, 'n nuwe gedaante om weer as nuweling tuis te voel?